Ná skool geloot vir diensplig te Lugmaggimnasium, Valhalla, met die voorneme om ‘n vegvlieënier te word. Weens my minder goeie wiskundesimbool in matriek, besluit die owerhede dit is nie in die land se beste belang om my as vlieënier op te lei nie.
Ek neem die beste besluit van my lewe en swot aan die Bloemfonteinse Onderwyskollege. Ná my opleiding kry ek in 1973 ‘n pos op Ladybrand. Hier val die meetsnoere op mooi plekke vir my en word ek bevorder eers tot Departementshoof, tie Adjunkhoof en in 1991 tot Skoolhoof van die Primêre Skool Ladybrand: ‘n pos wat ek vir 20 jaar tot my aftrede in 2010 beklee het. Ná ‘n verdere tien jaar op Ladybrand verhuis ons na Somerset Wes in die Wes-Kaap.
Ek ontmoet my vrou, Eileen, op Ladybrand. Twee dogters en ‘n seun word uit die huwelik gebore, een ‘n dokter en die ander twee onderskeidelik ‘n onderwyser en ‘n skoonheidsterapeut. Ons is geseënd met vyf kleindogters en dit lyk asof die familienaam onder druk is. Die vyf kleinkinders het intussen aangegroei na sewe met twee seuntjies wat albei hul oupa se name vir nog ‘n geslag sal voortdra.
‘n Potjie gholf met pêlle, jag, hengel en tarentaalskiet kikker die luilekker aftreedae op. Deur baie te lees en om lekker resepte te beproef, hou ‘n “ou” man verder besig.
Ek volstaan met die volgende gedagte uit een van Koos du Plessis se liedjies: “Wat ek het, is net geleen, wat ek is, is net genade.”