Toe ek my 50 cc-Honda in 1966 gekry het, het die geskiedenisonderwyser, Hennie (Matroos) Marais, my gewaarsku dat ek nou éérs gaan sleg doen op skool. Dit was die aansporing wat ek nodig gehad het: Ek het my skoolloopbaan daarna tot die tevredenheid van my verbaasde ouers afgesluit.
Ná skool is ek Kovsies toe, het Latyn en regte studeer, daarna klas gegee aan die universiteit en toe die prokureurspraktyk betree. Ek is 1974 met Elize Horak getroud, wat ook ‘n regstudent (en Joolkoningin!) aan Kovsies was. In 1976 het ons ons in Kaapstad gevestig.
Aan die einde van die 1970’s is ek Londen toe om vir ‘n internasionale skeepsregfirma te werk. By my terugkeer, was ek vir twintig jaar die enigste Afrikaanssprekende praktiserende skeepsregprokureur in die wêreld.
Ek het in Maart 2024 uitgetree as ‘n senior vennoot van die korporatiewe afdeling van ENSafrica, na bewering Afrika se grootste regsfirma. Ek tree nou op as konsultant vir van my ou kliënte. Dit hou my besiger as wat ek gedink het, maar dit is nie noodwendig ‘n slegte ding nie.
Ná dertig jaar as ‘n advokaat en senior advokaat is Elize aangestel as ‘n regter van die Hooggeregshof te Kaapstad, ‘n posisie wat sy beklee het tot met haar 70ste verjaardag aan die einde van 2022. Nou is sy salig afgetree en baie bly dat die vier jong kinders van ons twee dogters almal binne een kilometer vanaf ons bly.
Buiten die twee dogters het ons ‘n laatlamseun (hy is darem al 33), wat woon in Hong Kong en daar werk as ‘n prokureur. Hy is verloof aan ‘n plaaslike meisie van Hong Kong
Ek en Elize is entoesiastiese fietsryers, op die pad sowel as op die berg. Laasgenoemde doen ons gereeld, aangesien ons aan die hange van Tafelberg woon.
Ek boer met groente in my tuin in Oranjezicht en gaan nog gereeld na ons familieplaas, Onze Rust buite Bloemfontein, meesal om met my pa se groot treinestel uit die 1950s en 1960s doenig te wees (“speel” sal die werk wat ek daaraan moet doen, te vlak stel!).