Header Image

Schalk Cronje

Ek was van Sub-B af op Grey ná my Sub-A jaar in Oranje omdat daar nie in Grey plek was nie.

Na elf jaar op Grey studeer ek vanaf 1969 B Com aan Kovsies. In die eerste jaar was ek redelik suksrsvol, maar in die tweede jaar raak musiekmaak ‘n groter prioriteit en so is die jaar minder suksesvol.  In 1971 betree ek die arbeidsmark by die Ontvanger van Inkomste in Bloemfontein en in 1972 voltooi ek my graad buitemuurs terwyl ek my staatsdiens-beursverpligtinge van die eerste twee jaar afwerk.

In 1972 trou ek met Anita Muller. Ons het ‘n dogter en twee seuns, wat albei getroud is en elkeen twee kinders het..

In 1973 begin ek by Burroughs Machines werk as rekenaarverkoopsman, iets wat destyds nog ‘n vreemde ding was. In 1975 begin ek my loopbaan by Sanlam as verteenwoordiger in Kimberley en in 1980 beland ek in Sanlam se hoofkantoor in Bellville ná ‘n draai as takbestuurder in De Aar.

Ek mis my droom om op vyftig af te tree met twee jaar, maar koop met die eeuwisseling grond in Hopefield en begin in 2003 met ‘n boerdery – iets waarvan ek toe niks geweet het nie!  Ek bly nog steeds in Hopefield en hou my tot 2024 met my “bestaansboerdery” besig.

Teen dié tyd weet ek darem al waaroor om te kla soos droogte, insetkoste-stygings, ardeidersprobleme en grondonteienings en sulke dinge.  Ek beleef op Hopefield van die beste tye van my lewe met ‘n rustige en veilige bestaan met goeie vriende en Weskus- gasvryheid.  Ek is ook aktief betrokke in die gemeenskap by onder meer die kerk, die sportklub en die landbouvereniging.

In 2024 kry ek dit uiteindelik reg om ná 21 jaar en op 73 jarige ouderdom “uit te boer”, maar ek kan gelukkig nog as bywoner in die huis op die plaas aanbly.

Ek beplan om van 2025 ‘n “gap-jaar” te maak en te doen wat ek ookal in daardie stadium voor lus is en dan in 2026 vir my ‘n aftreeplekkie in Malmesbury te bou en daar “morsaf” te gaan aftree.

< Back to our profiles