Ná skool het ek by Tukkies verder gaan studeer. Terug in Bloemfontein ná my dienspligjaar, praktiseer ek vir net meer as dertien jaar as ‘n tandarts.
Toe is dit weer terug Tukkies toe om te spesialiseer, waar ek die voorreg gehad het om twee jaar as ‘n senior nagraadse lektor in die department te kon aanbly. Herstellende tandheelkunde terwyl ek met ‘n deeltydse spesialis praktyk kon begin. Praktiseer daarna voltyds as ‘n prostodontis in ‘n privaat praktyk, weer in Bloemfontein, vir 28 jaar.
My en Deirdré se kleinkindertal staan tans op ‘n gelukkige agt, terwyl albei ons dogters en hulle gesinne hulle in die buiteland gevestig het. Ons vier seuns en hulle gesinne is gelukkig nog in Suid-Afrika.
Ek is nou nog steeds ‘n amptelike uitgetredene (maar nie heeltemal ‘n afgetredene nie), wat bevoorreg genoeg is om geroeste belangstellings en stokperdjies te kan afstof: en hard probeer om rustiger menswees te herontdek!