Nadat die beroemde ou Grey-klok sy afskeidsdeuntjie gesing het vir die 1968- matrieks, het my paadjie koers gevat deur die pantserkorps en Kovsies. Daarna het ’n draai deur die onderwys gevolg voodat ek by Die Volksblad in Bloemfontein beland het.
Die joernalistiek was my lewe vir baie jare, meestal as subredakteur. Goeie dae en vasbytdae was alles deel daarvan. ’n Tydjie by die SAUK het gevolg en toe is ek Port Elizabeth toe. Ek het ’n klompie jare lank die geleentheid gehad om as lektor by ’n kollege hier die geheime van die joernalistiek te deel met ’n handvol studente. Hier het ek my sielsmaat ontmoet en afgetree.
Vyftig jaar later en ek word nog steeds opgewonde as Grey goed doen op die rugbyveld. Vyftig jaar later en ek dra steeds ’n stukkie Grey in my bloed. Dit sal seker altyd so wees.