Header Image

Abraham (Abie) Dreyer

Ek het in my Grey-jare sowat 11 km van die stad gewoon.  Vervoer was maar ‘n probleem en om sport te beoefen, dus ook.  Ek het met wedvlugduiwe geboer en op aandrang van Chris en Leon van Rensburg begin deelneem aan wedvlugte.

Ek doen dit vandag nog, hoewel daar lang onderbrekings was.

Ek het my “articles” by Meyer Nel en Kie in Bloemfontein gedoen en deeltyds by Kovsies en later ook Unisa studeer en die graad B.Compt behaal. Ek het vir ‘n paar jaar gepraktiseer voordat ek ‘n loopbaan as finansiële bestuurder in koöperasiewese en die Landbou in 1978 aangepak het. Daar het ek gevorder tot deel van die hoofbestuur.

In 1995 het ek die beroep verlaat en myself in diens geneem.  Ek het verskeie bedrywe getoets, waaronder deeltydse boer, restaurantwese en vermaak.  Met die eeuwisseling het ek begin met ‘n drankwinkel en verspreiding, wat later ook koeldrank ingesluit het.  Só het ek ook my seuns by die familiebesigheid betrek.

Ek is getroud met Madeleine (Van der Walt) en ons het ‘n dogter (‘n weduwee) en tweelingseuns, albei ongetroud.  Ons het ongelukkig geen kleinkinders nie.

Na die covid-fiasco het ons die Coca Cola-depot in Bethlehem verloor, so ek is amptelik op pensioen vanaf Februarie 2021. My een seun bestuur ons ander winkel, sy broer doen die voorraadbeheer en my dogter die admin. Ek doen nog die oorhoofse admin, maandelikse opgawes en finansiële state. Dit hou my ook goed besig.

My hele gesin is in Bethlehem (waar ek sedert 1978 woon) en hulle kyk goed na ons.

Die jare stap aan, maar deur die genade  gaan dit goed met my. Die beweging is maar bietjie stadiger, maar ek is baie dankbaar dat ek nog met die wedvlugduiwe kan werk en bly besig.

< Back to our profiles